Biografie

Rudi Muller is ‘n inheemse naam in die Suid Afrikaanse musiekbedryf. Rudi wat nie net bekend is vir sy talle trefferliedjies en albums nie, is ook ‘n bekende gesig by die organisering van verskeie feeste.

Rudi is op 10 Junie, 1977 gebore te Nigel, waar hy nog sy hele lewe lank leef. Gedurende sy kinderjare was die bewys reeds daar dat Rudi alles het wat dit vat om ‘n ikoon te word in die musiekbedryf. Op 6 jarige ouderdom tree hy op saam met die allerbekende 80’s groep, die “Soft Shoes” by ‘n talentkompetisie in Nigel. Gedurende dieselfde tydperk word hy genader om as jong kunstenaar sy eerste TV verskyning te maak vir ‘n TV-advertensie vir die destydse “Goed Beter Botter” handelsmerk.

Na skool sluit Rudi aan by die familiebesigheid wat gespesialiseer het in galvanisering. Hy beproef ook verder sy musikale talent met plaaslike vertonings af en toe.

In 1999 sien Sting Music die stralende talent van Rudi Muller raak en bied hom sy eerste platekontrak aan. “Kan jy my hoor” het kort daarna die lig gesien! Van hier af het Rudi suksesvol voortgebou en in 2002 word hy genader deur die Internasionale Maatskappy, EMI. “Tussen Die Lyne” word onder leiding van EMI vrygestel en bevat treffers van die era soos “Dans” en “Jy’s die rede.” Op hierdie album kry Rudi ook die geleentheid om saam met internasionale bekroonde skrywer, Lourens Fourie te werk wat onder meer ook vir Dana Winner geskryf het.

In 2004 word Rudi deur Gallo genader vir die vrystelling van sy volgende reeks albums. Gedurende 2004 word “Mal oor jou” vrygestel en saam met die skrywer, Joe Niemand, word treffers soos “Warm Patat” en “My Liefste Mens” oornagsensasies!

In 2006, steeds onder die leiding van Gallo word “Voel jy” vrygestel en soos net Rudi Muller kan, word die titelsnit “Voel Jy”, en “Dokter Dokter” sinoniem met Suid Afrikaanse gehore.

In 2008 stel hy sy vyfde album “Altyd hier” deur Gallo vry.

2010 was ‘n wendingjaar vir Rudi met sy loopbaan en persoonlike lewe. ‘n Reeks gebeurtenisse laat hom nadink oor die lewe en spesifiek sy geloof. ‘n Noue ontkoming met die dood bevestig vir Rudi wat hy in sy hart glo. Hy sluit aan by Vonk Musiek en onder die leiding van die gedugte span, word sy Gospel trefferalbum, “Deurbraak”, vrygestel. Die album bevat twaalf oorspronklike nommers uit die pen van Rudi homself, Kobie Koen, Marely Koen en Gerhard Steyn. Rudi neem ook twee Gospel-snitte op wat vir hom baie betekenis het, naamlik “Die Oorwinningslied” en “I do Believe” van die Gaither Vocal band.

Rudi Muller se 2014 CD, Tetelestai, is ‘n album wat die klank van geestelike musiek in ‘n nuwe wentelbaan plaas. Dit is ‘n grootse, fyn georkestreerde versameling van liedjies met ‘n internasionale klank wat ver anderkant die grense van gospelmusiek die hartsnare sal roer.

Tetelestai bevat veertien liedjies wat ‘n Lof-keurspel en twee Engelse snitte insluit en is saam met Deon van der Merwe (van Touch of Class-faam), Hanalie Burger en Ruhan du Toit opgeneem. Van der Merwe en Burger het uiterste moeite gedoen met die verwerkings wat die luisteraar van die eerste note meesleur. “Dit was die hele uitkyk om op hierdie wyse God se Genade en sy Grootheid te besing. Hanalie en Deon is geniaal en hul talent en kreatiwiteit spreek vanself.”

In 2017 sluit Rudi ook by die gewilde “Manne wat glo” groep aan wat bestaan uit Jan de Wet, Leon Ferreira en Willie Joubert. In hierdie jaar word Manne wat Glo – Vol 3 ook suksesvol vrygestel.

Na vele ander albums, is Rudi Muller terug met ‘n splinternuwe geestelike album wat beloof om een van dié albums van die jaar te wees. Met NUWE DAG gaan Rudi grense verskuif, baanbrekerswerk doen en die persepsie totaal vernietig wat rondom “Gospel”-musiek bestaan.

Hierdie is ‘n gemaklike album. Néé, Rudi sit nie met ‘n kruis in die hand op die omslag en probeer voorgee nie – hierdie album kom uit sy hart, alhoewel die aanslag so lig en lekker is dit selfs perfek sal werk vir die langpad. En mag ek my verstout deur te sê die verwerkings is so goed en lekker gedoen, dat jy selfs ‘n dansie om die tafel sal wil maak – nie uit ligsinnigheid nie, maar sommer uit dankbaarheid teenoor die Here vir die kleinighede in jou lewe, want dis presies wat hierdie goedvoel-album jou laat ervaar.

Media Vrystellings en Foto’s